Grondwet

AANHEF

DIE ASSOSIASIE EN KOALISIE VIR DIE HERSTEL VAN DIE VOORMALIG INTERNASIONAAL ERKENDE BOEREREPUBLIEKE

Die Assosiasie & Koalisie vir die Herstel van die Boererepublieke, waarna hierna verwys sal word as die AKHBR, is op 28 Februarie 2018 gestig ná die aankondiging van die Regering van Suid-Afrika se besluit om Artikel 25 [Die Eiendomsklousule] van die Grondwet van Suid-Afrika te wysig. Die beoogde wysiging sal tot gevolg hê dat die lede van die AKHBR hul reg op hul onroerende eiendom sal verloor, wat direkte inbreuk impliseer in die groep se fundamentele regte ten opsigte van hul etniese en sosiale oorsprong, godsdiens, gewete, geloof, kultuur en taal. Die argumente wat deur die regering en ander belanghebbendes aangebied is en wat gelei het tot die besluit om die Eiendomsklousule te wysig, diskrimineer onregmatig teen die lede van die AKHBR en bring gevolglik ook differensiasie mee tussen groepe welke ontoelaatbaar is in die Nuwe Bedeling en die Handves van Regte, waarin die praktiese gelykheid en die beskerming van die grondwetlike regte van alle landsburgers vasgelê en gewaarborg word.

1. NAAM EN GRONDWET

1.1 Die Assosiasie en Koalisie vir die Herstel van die voormalige [Internasionaal erkende] Boererepublieke (AKHBR).

1.2 Die AKHBR is ’n vrywillige vereniging (met sy eie regspersoonlikheid wat van dié van sy lede en geaffilieerdes geskei is) en bestaan uit mense, groepe mense en organisasies wat die mense, groepe en organisasies verteenwoordig wat die slagoffers is van onregverdige differensiasie en diskriminasie op grond van die regering se bogenoemde besluit in verband met die voorgestelde wysing van die Eiendomsklousule, wat op 27 Februarie 2018 geneem is.

1.3 Die Vereniging se finansiele tydperk sal jaarliks vanaf 1 Januarie tot 31 Desember strek.

2. DEFINISIES

2.1 ’n Lid sal iemand wees wat deur die Uitvoerende Komitee (UK) goedgekeur is op sterkte daarvan dat hy of sy hierdie Grondwet onderskryf en hom / haar vereenselwig met die volgende gebeurtenisse in die geskiedenis van Suid-Afrika: Die Groot Trek uit die destydse Kaapkolonie wat in 1837 begin het en die redes daarvoor; die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838, die regstreekse oorsake en gevolge daarvan wat tot die Gelofte van Bloedivier gelei het, die Geloftes van Bloedrivier (1838) en Paardekraal (1880); die stigting van die onafhanklike republieke, naamlik die Zuid-Afrikaansche Republiek en die Republiek van die Oranje Vrystaat; die Vryheidsoorlog van 1880-1881 en die Anglo-Boereoorlog van 1889–1902; die vryheidsvlag van bogenoemde twee republieke, bekend as die ’Vierkleur’; die Vredes verdrag van Vereeniging (beter bekend as die Vrede van Vereeniging); die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika in 1910; en die totstandkoming van die Republiek van Suid-Afrika in 1961 tot met die referendum in 1992.

Geassosieerde lidmaatskap het dieselfde vereistes as lede, maar is meer op groepe en organisasies gerig.

2.2 Geaffilieerde lidmaatskap word deur die Uitvoerende Komitee (UK) toegeken aan enige organisasie, netwerk, assosiasie of individu wat met die behoud van sy eie onafhanklike regspersoonlikheid met die AKHBR geaffilieer wil word, mits sodanige aansoeker die doelwitte en doelstellings van die AKHBR onderskryf, sonder om hul noodwendig met die gronde soos in 2.1 hierbo uiteengesit is, te vereenselwig. Geen lid aan wie geaffilieerde lidmaatskapstatus deur die UK toeken is, sal enige regspersoonlikheid met die AKHBR deel nie.

2.3 Die UK is die Uitvoerende Komitee wat ingevolge paragraaf 5.1 saamgestel word.

3. DOELSTELLINGS

Die hoofdoelstellings van die AKHBR sal die volgende wees:

3.1 die bevordering van die gelykheid van alle lede se regte met betrekking tot die beskerming: van eiendom, etniese en sosiale oorsprong, godsdiens, gewete, geloof, kultuur en taal volgens (a) die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika; (b) Suid-Afrikaanse wetgewing; (c) die Bybel; en (d) betroubare en feitelike skriftelike historiese bronne wat al die lede se sosiale oorsprong, godsdiens, gewetensoortuigings, geloof, kultuur en taal bevestig [In hierdie dokument word na (a)-(d) verwys as Bronkodes, wat die lede se regte ten opsigte van bogenoemde fundamentel faktore bevestig];

3.2 die bevordering van gelykheid voor die wet vir alle lede wat benadeel is deur bogenoemde differensiasie en gevolglike onregverdige diskriminasie as gevolg van die beoogde wysiging van die Eiendomsklousule;

3.3 die voorkoming van die onderwerping van enige lid aan enige ander groep(e) of landburgers op enige wyse en in enige mate (self in die geringste mate);

3.4 die voorkoming van die bevordering en / of publikasie//bevoordeling van enige groep bo of ten koste van lede op enige wyse of in enige mate (selfs in die geringste mate), en dus bo of ten koste van enige lid of ten koste van die algemene publiek;

3.5 die bevordering van alle lede se begrip van en verbintenis tot die reg tot gelykheid en volhoubare sosiale ontwikkeling ingevolge die Bronkodes;

3.6 die bevordering van die volbringing van die Bloedriviergelofte deur die lede;

3.7 die versekering deur die lede dat alle tersaaklike besluite en stappe op gebed tot hul God sal berus en met die lede se siening van die bronkodes sal ooreenstem;

3.8 die bevordering van wetgewing, gedragsreëls, oriëntasie, ensovoorts deur lede ten einde hierdie doelwitte en doelstellings te ondersteun, en die aanteken van beswaar teen en die bestryding van enige optredes wat strydig is met hierdie doelwitte en doelstellings, onder andere deur middel van stemwerwing, voorspraak, politieke mobilisering en regsgedinge in howe, of enige ander vorm van beslissing en met enige instansie, ongeag of dit 'n regerings- of ander instansie is; en

3.9 die voortgesette opleiding en ontwikkeling van verteenwoordigende leierskap om hierdie doelwitte en doelstellings te ondersteun.

3.10 Om 'n regsgeding aanhangig te maak ten einde die Internasionaal erkende Boere Republieke se soewereiniteit te herstel.

4. AANSOEK OM LIDMAATSKAP

4.1 Lidmaatskap en Geaffilieerde lidmaatskap van die Assosiasie kan slegs deur die UK toegestaan word aan enige vereniging, organisasie, netwerk of individu wat die doel en doelstellings van die Assosiasie ondersteun. Lede sal daarop geregtig wees om binne die strukture van die Assosiasie te stem (onderworpe aan hierdie Grondwet), terwyl Geaffilieerde Lede ad hoc-stemreg in daardie strukture kan verkry, of op grond van resolusies van die Assosiasie, soos van tyd tot tyd en / of op ’n ad hoc-grondslag (onderworpe aan hierdie Grondwet) deur die UK bepaal word. Lidmaatskap van die Assosiasie sal beperk word tot persone en groepe wat hulself assosieer met die gronde soos uiteengesit in paragraaf 2.1 hierbo.

4.2 Enige goedkeuring van lidmaatskap of geaffilieerde lidmaatskap, of enige aansoek om lidmaatskap of geaffilieerde lidmaatskap wat deur die UK geweier is, sal tydens die volgende algemene vergadering vir bekragtiging of hersiening voorgelê word.

4.3 Die UK kan, indien nodig, ’n kundige of enige ander persoon tot medelid van die Assosiasie of enige van sy komitees kies en kan aan hom / haar sodanige stemreg of pligte toeken as wat in elke geval deur die UK bepaal word.

5. UITVOERENDE KOMITEE EN AMPSDRAERS

5.1 Tydens die Algemene Jaarvergadering sal die Assosiasie vanuit die afgevaardigdes ’n Uitvoerende Komitee kies. Dié komitee, wat uit minstens drie en hoogstens tien lede sal bestaan, sal as die UK optree.

5.2 By die eerste geleentheid ná hul verkiesing sal die lede van die UK ’n Sameroeper en ‘n Medesameroeper vanuit hul eie geledere kies.

5.3 Die Sameroeper sal saam met personeel en ander lede van die UK namens die UK die leiding neem ten opsigte van alle beleidsbesluite en projekte.

5.4 Die Sameroeper sal gereelde kontak met lede van die UK handhaaf en sal hulle inlig oor alle aktiwiteite wat deur die personeel en die UK onderneem word.

5.5 Die Sameroeper sal deur die UK aanspreeklik gehou word en sal ten opsigte van alle beleidsbesluite deur die UK gelei word. Die UK is aanspreeklik teenoor die Assosiasie en sal ten opsigte van alle beleidbesluite deur die Assosiasie gelei word, vir welke doel die Assosiasie sake na die UK kan delegeer.

5.6 Die dienstermyn van die UK is een jaar, of totdat die volgende Algemene Jaarvergadering verdaag.

5.7 Die Uitvoerende Komitee sal so spoedig as wat ná die Algemene Jaarvergadering prakties moontlik is vanuit sy getalle ’n lid van die UK kies wat uitvoerende verantwoordelikheid vir die finansiële administrasie van die Vereniging sal aanvaar.

5.8 Slegs daardie ampsdraers wat ingevolge paragraaf 5.1 gekies is, sal op ’n stem in die UK geregtig wees.

5.9 Die eerste drie lede van die UK is: PR Swanepoel, wat ook die Sameroeper sal wees, Dr.CA van der Merwe en AJ Botes, wat die reëlings sal tref vir die Vereniging se Algemene Jaarvergadering wat op of voor 1 November gehou moet word.

6. PLIGTE EN VERANTWOORDELIKHEDE VAN DIE UK

Die UK sal –

6.1 tussen Algemene Jaarvergaderings die enigste beleidvormende liggaam van die Assosiasie wees (onderworpe aan hierdie Grondwet en die goedkeuring van die Assosiasie ten opsigte van sake wat nie vooraf na die UK gedelegeer is nie, met die verstandhouding dat bona fide bepalings deur die UK met betrekking tot aangeleenthede wat nie deur die Assosiasie gedelegeer is nie, dergelike aangeleenthede nie ultra vires sal maak nie);

6.2 daarna strewe om konsensus te bereik oor alle beleidskwessies, indien nie en andersyds te verseker dat die lede alle besluite en stappe van ’n toepaslike aard op gebed tot hul God sal berus en met die lede se siening van die bronkodes sal ooreenstem;

6.3 alle vergaderings van die Assosiasie reël en sorg dat kennis daarvan gegee word;

6.4 minstens een en twintig dae kennis gee van enige gewone vergadering van die Assosiasie, met die verstandhouding dat ’n spesiale vergadering in ’n noodgeval op korter kennisgewing gehou kan word. Kennisgewing van enige vergadering wat in die notule van enige vorige vergadering ingesluit is, sal as ’n behoorlike kennisgewing beskou word indien die betrokke notule minstens een en twintig dae voor die volgende vergadering aan al die lede gestuur is;

6.5 verseker dat die kennisgewing van enige vergadering van die Assosiasie’n agenda bevat wat enige skriftelike mosies of resolusies insluit wat deur enige lede of verteenwoordigers vir aanvaarding deur die Assosiasie ingedien is;

6.6 verantwoordelik wees vir die instandhouding en veilige bewaring van al die Assosiasie se rekords, met inbegrip van die notules van alle vergaderings van die Assosiasie of sy komitees;

6.7 verantwoordelik wees vir gereelde kommunikasie aan al sy lede van aangeleenthede wat van belang is vir die doelwitte en doelstellings van die Assosiasie; en

6.8 enige ander pligte uitvoer wat deur die Assosiasie benodig word.
UK-lede sal –

6.8.1 as ’n span met die personeel en geaffilieerde lede saamwerk om die doelstellings van die Assosiasie te bereik;

6.8.2 die nodige werk doen en gereeld met personeel en ander UK-lede komunikeer;

6.8.3 die personeel ondersteun, tydig op hul versoeke reageer en ’n werkomgewing bevorder wat gekenmerk word deur gelykheid, ontwikkeling en verbintenis tot die verwesenliking van die doelstellings van die Assosiasie;

6.8.4 die Assosiasie by alle vergaderings en ander openbare funksies, en tydens interaksie met die media, op ’n verantwoordelike en toepaslike wyse verteenwoordig;

6.8.5 die portefeuljetake wat aan hulle opgedra is uitvoer nadat daar tydens die jaarlikse beplanningsvergadering daaroor ooreengekom is. Dit sluit die sirkulasie van verslae na die Sameroeper en die UK in;

6.8.6 al die vergaderings en telekonferensies van die UK bywoon. Indien dit nie moontlik is nie, moet die Hoofkantoor betyds van hul afwesigheid verwittig word en moet redes daarvoor versterk word;

6.8.7 indien hulle sonder ’n goeie rede tydens drie agtereenvolgende UK-vergaderings afwesig was, uit die UK bedank of deur die UK versoek word om te bedank; en

6.8.9 al hul pligte en verantwoordelikhede betyds en op ’n verantwoordelike wyse nakom.

7. AANSPREEKLIKHEID EN BEPERKING VAN AANSPREEKLIKHEID VAN AMPSDRAERS EN LEDE

7.1 Volgens die Suid-Afrikaanse regstelsel sal die Assosiasie al die regte van ’n regspersoon geniet, en ook aan enige en alle verpligtinge onderhewig wees.

7.2 Geen Lid of Geaffilieerde Lid, behoorlik gemagtigde verteenwoordiger van ’n Geaffilieerde Lid, komiteelid, beampte, agent, werknemer of enige persoon in diens van die Assosiasie –

7.2.1 sal verantwoordelik gehou word vir die handelinge of versuim van die Assosiasie of enige ander persoon om enige rede (behalwe in die geval van sy / haar eie doelbewuste of mala fide dade en verstek) en sal uit die fondse van die Assosiasie vergoed word vir alle koste, betalings, uitgawes, verliese en laste wat deur hom / haar aangegaan is tydens die uitvoering van die besigheid van die Assosiasie of tydens die bona fide uitvoering van sy / haar pligte volgens hierdie Grondwet;

7.2.2 sal die Assosiasie sonder ’n uitdruklike opdrag deur die UK eensydig by enige transaksie, onderhandeling of optrede betrek nie. Indien enige persoon hierdie bepaling sou veronagsaam, mag die Assosiasie, nadat ’n behoorlike mosie in dié verband oorweeg en deur die UK goedgekeur is, die toepaslike Geaffilieerde Lid versoek om die betrokke persoon met ’n ander verteenwoordiger te vervang en sal ’n Geaffilieerde Lid enige dergelike versoek deur die UK respekteer;

7.2.3 sal op enige eiendomsreg, titel of eis ten opsigte van enige van die Assosiasie se bates geregtig wees nie; en

7.2.4 sal enige finansiële belang hê by die verkryging van enige voordeel, direk of indirek, uit enige kontrak wat die Assosiasie met enige persoon mag aangaan nie. Uitsonderings op hierdie reël kan deur die UK of die Assosiasie toegelaat word, maar slegs ná behoorlike beraadslaging en ’n volledige bekendmaking van die betrokke belang aan die UK. Enige en alle uitsonderings sal onderworpe wees aan die beperking waarvolgens geen lid van die UK of die personeel direkte finansiële of materiële voordeel sal trek uit enige kontrak wat die Assosiasie met enige persoon mag sluit nie.

8. FUNKSIES EN MAGTE VAN DIE ASSOSIASIE

8.1 Die Assosiasie sal, ter bereiking van sy doelstellings, al die nodige funksies uitvoer en al die nodige magte uitoefen.

8.2 Al die funksies en magte van die Assosiasie sal uitsluitlik in die UK gesetel wees. Die UK sal verantwoordelik wees vir die administrasie en funksionering van die Assosiasie tydens die verdaging van enige vergadering van die Assosiasie of die uitvoering van enige instruksie van die Assosiasie .

8.3 Benewens die algemene magte wat deur die reg aan ’n vrywillige vereniging toegeken word, sal die Assosiasie ook oor die bevoegdheid beskik om –

8.3.1 ’n kommunikasienetwerk vir sy lede en binne die gemeenskap te voorsien;

8.3.2 ’n bankrekening in die naamvan die Assosiasie te open;

8.3.3 die nodige fondse vir die bereiking van sy doelstellings in te samel;

8.3.4 die reëls te maak wat nodig is ten einde die finansiële integriteit van die Assosiasie se finansiële rekeninge te beveilig, asook reëls met betrekking tot die beperking van uitgawes en die belegging van dergelike fondse, en enige ander kwessie aangaande die finansiële regulasies wat op die Assosiasie se rekeninge van toepassing is; en

8.3.5 in sy eie naam iemand te dagvaar of in ’n regsgeding gedagvaar te word. In hierdie verband sal die Assosiasie aan sy eerste Sameroeper opdrag en volmag gee om alles wat nodig is te doen en enige en alle verklarings en beëdigde verklarings namens die Assosiasie te onderteken om ’n hofaansoek in te dien ten einde die probleem wat in die aanhef uiteengesit is te ondersoek. Die magtiging van die Sameroeper is aangeheg en maak deel uit van hierdie Grondwet.

9. VERGADERINGS EN PROSESSUELE AANGELEENTHEDE

9.1 Die Assosiasie of enige van sy komitees sal self besluit oor die prosedure wat tydens enige vergadering gevolg sal word en sal sorg dat notules vir alle vergaderings opgestel word.

9.2 ’n Meerderheid van stemgeregtigde lede van die Assosiasie of enige komitee sal ’n kworum vorm.

9.3 Indien die Sameroeper nie by ’n vergadering teenwoordig is nie, sal ’n Medesameroeper as voorsitter waarneem, en indien albei Medesameroepers ook afwesig is, sal die lede iemand vanuit eie geledere kies om tydens die vergadering as voorsitter op te tree.

9.4 In die uitvoering van sy funksies sal die Assosiasie die outonomie van sy lede respekteer en sal daar, waar moontlik, gepoog word om die doelstellings van die Assosiasie deur middel van konsultasie, konsensus en samewerking te bereik soos uiteengesit in paragraaf 6.2 hierbo.

9.5 Al die funksies van die Assosiasie sal uitgeoefen word met die nodige inagneming van die prosesse soos uiteengesit word in paragraaf 6.2 en 9.4 en sal elke lid van die UK n redelike geleentheid gegun word om deel te neem en ’n bydrae te maak tot die resolusie van of van enige saak wat by die Assosiasie aanhangig gemaak word. Ten einde maksimum konsensus te verseker betreffende die funksionering van die Assosiasie, mag die voorsittende beampte by enige vergadering van die Assosiasie alle afwykende stemme en die redes vir besware opteken. Die Assosiasie en sy lede sal te alle tye poog om enige en alle dergelike geskille te besleg.

10. VERGADERINGS VAN DIE ASSOSIASIE EN DIE UITVOERENDE KOMITEE

10.1 Die kennisgewing van ’n Algemene Jaarvergadering van die Assosiasie sal deur die Uitvoerende Komitee versprei word.

10.2 ’n Kennisgewing van ’n Algemene Jaarvergadering sal nie minder nie as 21 dae voor die datum van die Algemene Jaarvergadering aan elke lid gestuur word. Die kennisgewing sal ook die geouditeerde finansiële state van die Assosiasie insluit.

10.3 Die agenda vir enige Algemene Jaarvergadering sal onder andere voorsiening maak vir –

10.3.1 ’n verslag deur die lid van die Uitvoerende Komitee wat verantwoordelik is vir die finansiële administrasie van die finansiële posisie van die Assosiasie ;

10.3.2 die goedkeuring van die finansiële state vir die afgelope finansiële tydperk;

10.3.3 ’n verslag van die Sameroeper van die UK oor die mate waarin die doelstellings van die Assosiasie gedurende die afgelope tydperk bereik is;

10.3.4 die verkiesing van ampsdraers waarna in paragraaf 5.1 verwys is; en

10.3.5 enige ander aangeleentheid waarop tydens die algemene vergadering besluit mag word, insluitend die kwessie van ’n Geaffilieerde Lid wat in ooreenstemming met paragraaf 10.2 behoorlik kennis gegee het.

10.4 Die UK sal, wanneer nodig, vergaderings belê ten einde sy pligte en funksies ingevolge hierdie Grondwet uit te voer. Sulke vergaderings kan met behulp van elektroniese media gehou word en resolusies kan volgens die rond-klagskrif-metode [round robin method] hanteer word.

11. STEMPROSEDURE VIR STEMGEREGTIGDE PERSONE EN ORGANISASIES TYDENS ALGEMENE VERGADERINGS

11.1 Alle organisasies, netwerke, verenigings en die lede van die UK sal tydens enige algemene vergadering van die Assosiasie elkeen een stem hê, wat die beslissende stem sal wees.

11.2 Individuele lede sal ’n konsulterende stem oor alle beleidskwessies hê.

11.3 Tydens verkiesings sal slegs organisasies, netwerkverenigings and UK-lede toegelaat word om te stem.

12. WYSIGING VAN DIE GRONDWET

12.1 Die Grondwet kan slegs gewysig word tydens ’n behoorlik saamgestelde Spesiale Algemene Vergadering wat spesifiek vir dié doel gereël is.

12.2 Kennis van sodanige Spesiale Algemene Vergadering sal, mutatis mutandis, gegee word soos in paragraaf 10.2 beskryf is.

13. ONTBINDING VAN DIE ASSOSIASIE

13.1 Die Assosiasie kan ontbind word deur ’n besluit van sy Lede tydens ’n Spesiale Algemene Vergadering wat vir dié doel byeengeroep is. Die bates van die Assosiasie sal tot voordeel van ander groepe / individue met soorgelyke doelstellings aangewend word.


Ons doel - Om die soewereiniteit van die Zuid-Afrikaansche Republiek [ZAR] en die Republiek van die Oranje Vrijstaat [OVS] te herstel op grond van ons Geloftes, die Vredesverdrag van Vereniging en Bybelse eindtyd profesie.